listenlive2

header-afr

“Ithemba Labantwana” (Hoop vir ons kinders)

houses-febaprilHuise in die omgewing van die rondawelDie 11-jarige Joyce en haar pa het in ’n beskeie tweeslaapkamerhuisie in ’n dorpie in die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal gewoon. Hoewel hulle nie baie geld gehad het nie, het Joyce gemeen dat hulle genoeg het en sy was gelukkig. Haar pa het egter tuberkulose (TB) opgedoen en is kort daarna in 2011 oorlede.
 
Vandag is Joyce 15 en het sy vir byna vier jaar alleen in hul huisie gewoon. Die huis is in ’n baie swak toestand – vensters is gebreek, daar is skaars meubels en die voordeur kan nie meer sluit nie. Tog het sy alles tot nou toe nog hanteer.

ousidehosue-febapril’n Gesin waar kinders die hoof van die familie isDie vrae wat by mens opkom is:

  • Hoe het Joyce dit reg gekry om die afgelope vier jaar te oorleef?
  • Het sy skooltoe gegaan?
  • Het sy enige ondersteuning ontvang van haar uitgebreide familie, bure of die Departement van Maatskaplike Werk?
  • Watter aanpassings moes sy maak om as ’n 11-jarige kind die lewe te trotseer?
  • Hoekom het sy alleen gebly en nie by ander familielede nie?

Die ondersoek na Joyce se geval het ’n aantal belangrike aspekte na vore gebring wat in gemeenskappe aangespreek moet word om kinders in soortgelyke omstandighede effektief te kan help.

house-febaprilDie rondawel wat die gesin se tuiste isWanneer kinders meteens geen ouerlike sorg meer het nie, plaas dit hulle onder die geweldige druk van nuwe take, verantwoordelikhede en uitdagings, soos om na die ander kinders om te sien terwyl hulle almal sukkel om die stres en smart van die ouers se afsterwe te verwerk. Hulle moet nou ’n volwassene se take in die huishouding oorneem, daagliks kos voorsien en belangrike besluite neem.

Hierdie kinders se skoolopvoeding ly gewoonlik daaronder; daar is voedseltekort; hulle beleef angs en depressie en kan aan HIV-besmetting blootgestel wees.

’n Studie aan die Universiteit van Kaapstad  het gevind dat kinders wie se moeders dood is dikwels nie skooltoe gaan nie of minder skooljare voltooi, en dat minder geld aan hul skoolopleiding bestee word as wat die geval sou wees indien die moeder nog geleef het.

Die uitwerking van die HIV- en Vigs-pandemie op gesinne word weerspieël in die toenemende aantal weeskinders en huishoudings waar kinders aan die hoof staan. Meer en meer kinders bevind hulle in enkelouergesinne of word sonder ’n vaderfiguur groot. Sulke kinders het ’n beduidende agterstand.

inhouse-febaprilBinne die rondawel.Volgens die gemelde studie vererger armoede die impak wat die verbrokkeling van die gesinslewe op kinders het. Neem as voorbeeld ’n Suid-Afrikaanse dorpie met 100 kinders. Die volgende statistieke is moontlike voorbeelde van hul huislike omstandighede:

  • 48 het ’n pa wat leef, maar wat heeltemal afwesig is in hul lewens.
  • 36 word groot met ’n pa in die huis wat aktief by hul lewens betrokke is.
  • 35 woon met albei biologiese ouers in die huis.
  • 40 word groot met net ’n ma.
  • 3 word groot met net ’n pa.
  • 23 woon nie by hul biologiese ouers nie.
  • 8 woon by hul grootouers.
  • 34 word groot in ’n huishouding waar een van die ouers permanente werk het.

Syfers soos dié skets ’n prentjie van die krisis waarin talle Suid-Afrikaanse gesinne hulle bevind. TWR-SA het derhalwe besluit om met ’n nuwe jeugprojek te begin.
 
inhouse2-febaprilBinne die rondawel.Die radioprogram Ithemba Labantwana (“Hoop vir ons kinders”) fokus op kinders tussen 4 en 7 jaar wat in huishoudings woon waar ’n kind aan die hoof staan, hier in Suid-Afrika en ook verder op in Afrika. Hierdie kinders probeer in uiters kwesbare omstandighede oorleef en het dringend beskerming en ondersteuning nodig.

Die eerste fase van die projek bestaan uit 26 programme van ongeveer 12 minute elk. Hoewel die programme opvoedkundig van aard is (gesondheidsopvoeding, persoonlike sorg, voeding, tuinbou en talle ander relevante aspekte), word dit “makliker” aangebied met liedjies, stories, rympies en gediggies. Die doelwit is om die kinders te koester en hulle met Godgegewe hoop te vul sodat hulle eendag sorgsame en liefdevolle ouers sal wees.

Om hierdie doelwit te bereik, het ons u ondersteuning nodig. Indien u al by sodanige gesinne betrokke was, luister ons graag na u verhaal. Of beter nog, hoekom skryf u die verhale nie neer en deel dit dan met ons nie? Indien u op enige wyse by Ithemba Labantwana betrokke wil raak, tree asseblief in verbinding met Christo van Eeden by: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.